Die 96ste Oscar-toekenningsaand is op 10 Maart 2024 deur die Academy of Motion Picture Arts and Sciences in die Dolby-teater in Hollywood, Los Angeles, gehou om met Oscars, ook bekend as Academy Awards, erkenning te gee aan die rolprente van 2023. Jimmy Kimmel het dit vir die vierde keer aangebied, ná 2017, 2018 en 2023.[1]
Die kultuurverskynsel "Barbenheimer" het altesaam 21 benoemings gekry (8 vir Barbie en 13 vir Oppenheimer). Dié twee prente het in ses kategorieë met mekaar meegeding, insluitende vir beste prent.[2][3][4]Oppenheimer het die meeste gewen (7).
Verskeie veterane wat benoem is, sluit in Steven Spielberg, wat sy rekord vir die meeste benoemings vir beste prent tot 13 verhoog het;[5]Martin Scorsese, wat sy 10de benoeming vir beste regisseur gekry het en die oudste benoemde in dié kategorie geword het;[6] en die komponis John Williams, wat sy 54ste benoeming gekry het.[7][8]